6 Wedstrydbeamptes

Beginsel

Elke wedstryd is onder die beheer van wedstrydbeamptes wat uit die skeidsregter en twee grensregters bestaan. Bykomende persone, soos gemagtig deur die wedstrydorganiseerders, mag die reserweskeidsregter en/of reserwe-assistentskeidsregters, televisiewedstrydbeampte, die tydhouer, die wedstryddokter, die spandokters, die niespelende spanlede en die baljoggies insluit.

Assistentskeidsregter en grensregters is verantwoordelik om aan te dui wanneer die bal of die spel in die grens of doelgrens gaan, en die sukses al dan nie van skoppe na die pale. Hierbenewens voorsien assistentskeidsregters regstreekse bystand aan die skeidsregter soos die skeidsregter aanwys, met inbegrip van die rapportering van vuilspel.

Aanwysing van die skeidsregter

6.1 Die skeidsregter word deur die wedstrydorganiseerder aangewys. Indien geen skeidsregter aangewys is nie, kom die twee spanne oor 'n skeidsregter ooree. Indien hulle nie kan ooreenkom nie, wys die tuisspan 'n skeidsregter aan.

6.2 Indien die skeidsregter nie in staat is om die wedstryd te voltooi nie, word die skeidsregter se plaasvervanger volgens die opdragte van die wedstrydorganiseerder aangewys. Indien die wedstrydorganiseerder geen opdragte gegee het nie, wys die skeidsregter 'n plaasvervanger aan. Indien die skeidsregter dit nie kan doen nie, wys die tuisspan 'n plaasvervanger aan.

Pligte van die skeidsregter voor die wedstryd

6.3 Die skeidsregter reël die loting. Een van die kapteins skiet die munt op en die ander kaptein roep. Die wenner van die loting besluit om af te skop of om die kant kies. Indien die wenner van die loting besluit om 'n kant te kies, moet die opponente afskop, en omgekeerd.

6.4 Die wedstrydbeamptes moet die spelers se klere en soolknoppe vir voldoening aan reël 4 ondersoek.

Pligte van die skeidsregter gedurende die wedstryd

6.5 Binne die speelperk:

a. Die skeidsregter is die enigste beoordelaar van die feite en die reëls gedurende 'n wedstryd. Die skeidsregter moet die reëls van die spel in elke wedstryd regverdig toepas.

b. Die skeidsregter hou die tyd. Die wedstrydorganiseerder mag egter 'n tydhouer aanwys wat die einde van albei helftes moet aantoon.

c. Die skeidsregter hou die telling.

6.6 Die skeidsregter laat die spelers en plaasvervangers toegang tot die speelgebied toe wanneer dit veilig is om dit te doen.

6.7 Die skeidsregter verleen toestemming aan spelers om die speelgebied te verlaat. Spelers mag egter toegang verkry tot water vanuit hulle tegniese gebied, of van agter die doodlyn nadat ʼn drie toegeken is, sonder dat toestemming nodig is.

Die fluitjie

6.8 Die skeidsregter dra 'n fluitjie en blaas dit:

a. Om die begin en einde van die wedstryd aan te dui.

b. Om spel te stop. Dit skeidsregter is by magte om die spel te eniger tyd te stop.

c. Om aan te dui dat punte of 'n drie aangeteken is.

d. Om 'n oortreder te waarsku of af te stuur, en dit 'n tweede keer te blaas wanneer die strafskop of strafdrie toegeken word.

e. Wanneer die bal dood is, buiten ná 'n mislukte doelskop.

f. Wanneer die bal onspeelbaar raak.

g. Wanneer 'n strafskop, vryskop of skrum toegeken word.

h. Wanneer dit gevaarlik sou wees om spel te laat voortgaan of wanneer daar 'n vermoede bestaan dat 'n speler ernstig beseer is.

Die bal dood is.

6.9 Die skeidsregter sal die bal as dood beskou indien:

a. Die bal in die grens of doelgrens is.

b. Die bal in die doelgebied gedruk word.

c. Daar 'n poging tot 'n doelskop was.

d. 'n drie, strafskop of skepskop aangeteken is.

e. Die bal of baldraer die doodlyn of enigiets daarbuite raak.

f. Die bal enigiets bo die speelgebied tref.

Die bal of baldraer die skeidsregter of 'n niespeler raak.

6.10 Indien die bal of die baldraer die skeidsregter of 'n niespeler raak en geeneen van die spanne voordeel daaruit verkry nie, gaan die spel voort. Indien enigeen van die spanne voordeel binne die speelveld verkry, word 'n skrum toegeken aan die span wat die bal die laaste gespeel het.

6.11 Indien die baldraer die skeidsregter of 'n niespeler in die doelgebied raak en enigeen van die spanne voordeel daaruit verkry:

a. Indien die bal in die besit van 'n aanvallende speler is, ken die skeidsregter 'n drie toe waar die kontak plaasgevind het.

b. Indien die bal in die besit van 'n verdedigende speler is, ken die skeidsregter 'n dooddruk toe waar die kontak plaasgevind het.

6.12 Indien die bal deur die skeidsregter of ander niespeler in die doelgebied geraak word, oordeel die skeidsregter wat volgende sou gebeur het en ken 'n drie of dooddruk toe op die plek waar die kontak plaasgevind het.

Interaksie tussen die skeidsregter en assistentskeidsregters/grensregters

6.13 Die skeidsregter mag assistentskeidsregters raadpleeg oor sake met betrekking tot hul pligte, die reëls met betrekking tot vuilspel en tydhouding, en mag bystand met betrekking tot ander aspekte van die skeidsregter se pligte versoek.

6.14 Die skeidsregter mag 'n beslissing verander nadat 'n grensregter of assistentskeidsregter 'n vlag opgesteek het om aan te dui dat die bal in die grens of doelgrens is of om vuilspel aan te dui.

Televisiewedstrydbeampte

GLOBALE REËLPROEFNEMING

6.15 'n Wedstrydorganiseerder mag 'n televisiewedstrydbeampte (TWB, Engels TMO) aanwys wat van tegnologiese toestelle gebruik maak om situasies met betrekking tot die volgende op te klaar:

a. Die druk van die bal in die doelgebied.

b. Of bal in die handeling van die druk of dooddruk daarvan in die grens of doelgrens ingegaan het.

c. Indien daar twyfel bestaan of 'n skop na die pale suksesvol was.

d. Indien die wedstrydbeamptes van mening is dat 'n oortreding in die speelgebied plaasgevind het wat tot 'n drie of die voorkoming van 'n drie gelei het.

e. Vuilspel, met inbegrip van sanksies.

6.16 Enige van die wedstrydbeamptes, met inbegrip van die TWB, mag hersiening deur die TWB aanbeveel. Die hersienings sal plaasvind in ooreenstemming met die TWB-protokol.

Pligte van die skeidsregter ná 'n wedstryd

6.17 Die skeidsregter kommunikeer die telling aan die spanne en die wedstrydorganiseerder.

6.18 Indien 'n speler afgestuur is, voorsien die skeidsregter so gou moontlik aan die wedstrydorganiseerder 'n skriftelike verslag oor die vuilspeloortreding.

Aanstelling en beheer van assistentskeidsregters en grensregters

6.19 Daar is twee assistentskeidsregters of twee grensregters vir elke wedstryd. Tensy hulle aangestel is deur of onder die gesag van die wedstrydorganiseerder, voorsien elke span 'n grensregter.

6.20 Die wedstrydorganiseerder mag 'n persoon nomineer om op te tree as 'n plaasvervanger vir die assistentskeidsregters of grensregters. Hierdie persoon word die reserwegrensregter reserwe-assistentskeidsregter genoem en is in die omringende area geposisioneer.

6.21 Die skeidsregter het beheer oor die assistentskeidsregters of grensregters. Die skeidsregter mag aan hulle sê wat hulle pligte is en mag hulle beslissings omkeer. Indien 'n grensregter nie bevredigend is nie, mag die skeidsregter vra dat die grensregter vervang word. Indien die skeidsregter van mening is dat die grensregter aan wangedrag skuldig is, is die skeidsregter by magte om die grensregter af te stuur en dit aan die wedstrydorganiseerder te rapporteer.

Gedurende die wedstryd

6.22 Daar is een assistentskeidsregter of grensregter aan weerskante van die veld. Die assistentskeidsregter of grensregter bly in die grens behalwe wanneer 'n skop na die pale beoordeel word. Wanneer hulle 'n skop na die pale beoordeel, staan hulle in die doelgebied, agter die doelpale.

6.23 'n Assistentskeidsregter mag die speelgebied binnegaan om vuilspel te rapporteer. Dit maag slegs gedoen word tydens die volgende onderbreking in die spel en wanneer die skeidsregter dit toelaat.

Tekens

6.24 Elke assistentskeidsregter of grensregter dra 'n vlag of iets soortgelyks waarmee tekens van beslissings gegee word.

6.25 Teken vir die uitslag van doelskoppe: Een assistentskeidsregter of grensregter staan by of agter elke doelpaal. Indien die bal oor die dwarslat gaan en tussen die pale deur, steek hulle die vlae op om 'n doel aan te dui.

6.26 Teken vir in die grens:

a. Indien die bal of die baldraer in die grens of doelgrens ingaan, steek die assistentskeidsregter of grensregter die vlag op.

b. Die assistentskeidsregter of grensregter staan by die plek van die ingooi en wys na die span wat geregtig is om in te gooi.

c. Wanneer die bal ingegooi word, laat sak die assistentskeidsregter of grensregter die vlag, met die volgende uitsonderings:

i. Wanneer die spelers wat ingooi enige deel van enigeen van hulle voete in die speelveld sit.

ii. Wanneer die span wat nie geregtig is om in te gooi nie, dit gedoen het.

iii. Indien, tydens 'n vinnige ingooi, die bal wat in die grens ingegaan het deur 'n ander bal vervang is of, nadat dit in die grens ingegaan het, deur enigiemand behalwe die baldraer wat dit in die grens ingeneem het of die speler wat die gooi waarneem, geraak is.

d. Dit is die skeidsregter, en nie die assistentskeidsregter of grensregter nie, wat moet besluit of die bal van die korrekte plek af ingegooi is.

6.27 Teken vir vuilspel:

a. 'n Wedstrydorganiseerder mag aan die assistentskeidsregter die gesag verleen om vuilspel aan te dui.

b. 'n Assistentskeidsregter gee die teken dat vuilspel of wangedrag waargeneem is deur die vlag horisontaal te hou en veldinwaarts te wys, reghoekig met die grenslyn.

c. Indien 'n assistentskeidsregter die teken vir vuilspel gee, bly die assistentskeidsregter in die grens en gaan voort om al die gewone pligte uit te voer tot die volgende onderbreking in die spel.

d. Op uitnodiging van die skeidsregter mag die assistentskeidsregter dan die speelgebied binnegaan om die oortreding aan die skeidsregter te rapporteer. Die skeidsregter sal dan die toepaslike stappe doen.

e. Indien ʼn assistentskeidsregter se verbale verslag daartoe lei dat ʼn speler afgestuur is, dien die assistentskeidsregter so gou moontlik ná die wedstryd ʼn skriftelike verslag oor die insident by die skeidsregter in en die skeidsregter voorsien dit aan die wedstrydorganiseerder.

Bykomende persone

GLOBALE REËLPROEFNEMING

Enige bykomende persoon wat versuim om die Reëls na te kom, kan gewaarsku of afgestuur word en klagtes van wangedrag kan deur die Wedstrydorganiseerder aanhangig gemaak word.

6.28 Toepaslik opgeleide en geakkrediteerde noodhulp- of nabye (langs die veld) versorgingspersone mag te eniger tyd wanneer dit veilig is om dit te doen die speelgebied betree om aandag aan beseerde spelers te gee.

a. Daar mag tot twee medici wees, een aan weerskante van die veld, wat die spel mag volg.

b. Hierdie medici mag slegs water dra en voorsien aan ʼn speler wat hulle behandel.

c. Medici mag nie ʼn bal keer of daaraan raak terwyl dit lewend in spel is nie. Straf: Strafskop waar spel hervat sou word.

6.29 Die volgende persone mag die speelgebied binnegaan, mits hulle nie met die spel inmeng nie:

a. Twee genomineerde waterdraers gedurende ‘n onderbreking in spel vir ‘n besering aan ʼn speler of wanneer ‘n drie gedruk is. (Let wel: Die warmweer-riglyne kan een verdere watertyd per helfte regverdig)

i. By wedstryde met ʼn oefengroepgrootte van 23 mag waterdraers slegs die in die speelgebied ingaan wanneer ʼn drie gedruk word – in geval van die span wat punte aangeteken het, in ʼn gebied op of naby die 10 m-lyn in hul eie halfgebied. Die span wat nie punte aangeteken het nie, kan water in hulle doelgebied inneem of dit van agter hulle doodlyn gaan haal. Die waterdraers moet die veld verlaat wanneer die doelskop geneem is.

ii. In geval van ʼn strafdrie mag geen waterdraers nie op die veld gaan nie.

iii. Slegs wanneer geen drieë aangeteken is nie, moet ʼn natuurlike onderbreking, op ʼn neutrale plek op die veld, gebruik word om spelers toe te laat om water te ontvang. Indien dit met ʼn besering saamval, moet waterdraers die veld verlaat wanneer die medikus die veld verlaat.

iv. Spelers mag toegang tot water verkry binne die tegniese sone en van agter hulle eie doodlyn. Indien water binne die doelgebied gelaat word, sal hierdie voorreg opgeskort word.

v. n Waterdraer moet nie 'n afrigter wees nie.

b. ‘n Persoon wat ‘n skopring dra en slegs een waterbottel (uitsluitlik vir die gebruik van die skopper) nadat ‘n span aangedui het dat hulle van plan is om ‘n skop na die pale te neem of nadat ‘n drie gedruk is.

c. Die afrigters wat na hul spanne omsien tydens rustyd.

d. Hierdie bykomende persone moet te alle tye in hul tegniese gebied bly voordat hulle die speelveld betree soos hierbo toegelaat. Hulle mag nie die bal keer of daaraan raak terwyl dit lewend in spel is nie, ook nie terwyl hulle in die tegniese gebied is nie. Straf: Strafskop waar spel hervat sou word.

6.30 Geen bykomende persone moet die wedstrydbeamptes nader, met hulle praat of opmerkings tot hulle rig nie, behalwe medici in verband met die behandeling van 'n speler.

6.31 Die bestuur van plaasvervangers mag gedelegeer word aan kantlynbestuurders wat deur die wedstrydorganiseerder aangewys is. Inligting in verband met kantlynbestuur kan gevind word by: https://officiating.worldrugby.org