3 Span

Getalle

3.1 Elke span het gedurende spel nie meer as 15 spelers binne die speelgebied nie.

3.2 'n Wedstrydorganiseerder mag goedkeur dat wedstryde met minder as 15 spelers in elk van die spanne gespeel word.

3.3 'n Span mag by die skeidsregter beswaar teen die getal spelers in hul opponente se span aanteken. Indien 'n span te veel spelers het, beveel die skeidsregter die kaptein van daardie span om die getal toepaslik te verminder. Die telling op die tydstip van die beswaar bly onveranderd. Straf: Strafskop.

3.4 Vir internasionale wedstryde kan 'n unie tot soveel as agt plaasvervangers nomineer.

3.5 Vir ander wedstryde besluit die wedstrydorganiseerder hoeveel plaasvervangers genomineer mag word, tot 'n maksimum van agt.

3.6 Plaasvervanging mag slegs gedoen word wanneer die bal dood is, en slegs met die toestemming van die skeidsregter.

3.7 Indien 'n speler weer by die wedstryd aansluit of 'n plaasvervanger by die wedstryd aansluit sonder die toestemming van die skeidsregter en die skeidsregter van mening is dat die speler dit gedoen het om voordeel daaruit te trek, is die speler aan wangedrag skuldig. Straf: Strafskop.

3.8 Die tabel toon die minimum getal voorryspeler volgens oefengroepgrootte en die minimum plaasvervangingsverpligtinge aan. 'n Wedstrydorganiseerder kan, met inagneming van spelerswelstand, die minimum getal voorryspelers in die oefengroep en die minimum plaasvervangingsverpligtinge op gedefinieerde vlakke van die spel wysig.

OefengroepgrootteMinimum getal voorryspelers in die oefengroepMoet in staat wees om te vervang wanneer die eerste keer gevra word
15 of minder3-
16, 17 of 184Hetsy 'n stut of 'n haker
19, 20, 21 of 225Beide 'n stut en 'n haker
236Loskopstut, vaskopstut en haker

3.9 Indien die wedstrydorganiseerder oefenspangroottes van 23 bepaal het en 'n span slegs twee voorry-plaasvervangers kan nomineer, mag daardie span dan slegs 22 spelers vir hulle oefengroep nomineer.

3.10 Voor die wedstryd moet elke span die betrokke wedstrydbeampte omtrent hulle voorryspelers en moontlike voorry-plaasvervangers inlig, en ook omtrent die posisie(s) in die voorry waarin hulle kan speel. Slegs hierdie spelers mag in die voorry speel wanneer die skrum betwis word, en slegs in hulle aangewese posisie(s).

3.11 'n Plaasvervanger-voorryspeler mag die wedstryd in 'n ander posisie begin.

3.12 Dit is 'n span se verantwoordelikheid om te verseker dat al die voorryspelers en voorry-plaasvervangers behoorlik afgerig is en oor die nodige ervaring beskik.

Onbetwiste skrums

3.13 Skrums word onbetwiste skrums indien enigeen van die spanne nie 'n behoorlik afgerigte voorry op die veld kan bring nie of indien die skeidsregter so beveel.

3.14 'n Wedstrydorganiseerder kan bepaal onder watter omstandighede 'n wedstryd met onbetwiste skrums mag begin.

3.15 Onbetwiste skrums as gevolg van die afstuur, tydelike skorsing of besering van 'n speler moet met agt spelers per span gespeel word.

3.16 Indien ‘n voorryspeler die speelgebied verlaat, hetsy as gevolg van ‘n besering of permanente skorsing, vra die skeidsregter by die volgende skrum of die span met betwiste skrums kan voortgaan. Indien die skeidsregter ingelig word dat die span nie die skrum sal kan betwis nie, beveel die skeidsregter onbetwiste skrums. Indien die speler terugkeer of ‘n ander voorryspeler opkom, kan betwiste skrums hervat word.

3.17 In 'n oefengroep van 23 spelers of na goeddunke van die wedstrydorganiseerder mag 'n speler wie se verlaat van die veld die skeidsregter genoop het om onbetwiste skrums te beveel, nie vervang word nie.

3.18 Slegs indien geen plaasvervanger-voorryspeler beskikbaar is nie, word enige ander speler toegelaat om in die voorry te speel.

3.19 Indien 'n voorryspeler tydelik geskors is en die span nie met betwiste skrums kan voortgaan met spelers wat reeds op die veld is nie, nomineer die span 'n ander speler om die speelgebied te verlaat ten einde 'n beskikbare voorryspeler in staat te stel om op te kom. Die genomineerde speler mag nie terugkeer totdat die skosringstydperk verstryk het nie, of om as 'n plaasvervanger op te tree nie.

3.20 Indien 'n voorryspeler afgestuur word en die span nie met betwiste skrums kan voortgaan met spelers wat reeds op die veld is nie, nomineer die span 'n ander speler om die speelgebied te verlaat ten einde 'n beskikbare voorryspeler in staat te stel om op te kom. Die genomineerde speler mag as 'n plaasvervanger optree.

Permanente vervanging

3.21 'n Speler mag vervang word indien hy beseer word. 'n Beseerde speler wat vervang is, mag nie terugkeer nie.

3.22 'n Speler word geag beseer te wees indien:

a. Op nasionaal verteenwoordigende vlak, dit die mening van 'n dokter is dat dit nie raadsaam sou wees vir die speler om voort te gaan nie.

b. In ander wedstryde, indien 'n wedstrydorganiseerder eksplisiete toestemming daartoe verleen het, dit die mening van 'n medies opgeleide persoon is dat dit nie raadsaam sou wees vir die speler om voort te gaan nie. Indien geen so 'n persoon teenwoordig is nie, mag daardie speler vervang word indien die skeidsregter instem.

c. Die skeidsregter (met of sonder mediese advies) besluit dat dit nie raadsaam sou wees vir die speler om voort te gaan nie. Die skeidsregter beveel daardie speler om die speelgebied te verlaat.

3.23 Die skeidsregter maag ook 'n beseerde speler beveel om die speelgebied te verlaat om medies ondersoek te word.

Permanente vervanging – herken en verwyder

3.24 Indien 'n speler op enige tydstip gedurende 'n wedstryd harsingskudding opdoen of vermoedelik harsingskudding het, moet daardie speler onmiddellik en permanent uit die speelgebied verwyder word. Hierdie proses staan bekend as "Herken en Verwyder".

Tydelike vervanging – bloedbesering

3.25 Wanneer 'n speler 'n bloedbesering het, verlaat daardie speler die speelveld en mag hy tydelik vervang word. Die beseerde speler keer terug na die spel sodra die bloeding beheer en/of bedek is. Indien die speler nie binne 15 minute (werklike tyd) nadat hy die speelveld verlaat het beskikbaar is om na die speelgebied terug te keer nie, word die plaasvervanging permanent.

3.26 By internasionale wedstryde besluit die wedstryddokter of 'n besering 'n bloedbesering is wat ʼn tydelike plaasvervanger noodsaak. In wedstryde wat vooraf deur Wêreldrugby vir gebruik van die EHB-proses goedgekeur is, kan die wedstryd nie hervat word alvorens die speler met die bloedbesering tydelik vervang is nie.

Tydelike vervanging – Evaluering van Hoofbesering (EHB)

3.27 In wedstryde wat vooraf deur Wêreldrugby vir gebruik van die EHB-proses goedgekeur is, moet 'n speler wat 'n EHB benodig:

a. Die speelveld verlaat; en

b. Tydelik vervang word (selfs al is al die plaasvervangers gebruik). Die spel kan nie hervat word alvorens die speler wat ʼn EHB benodig, tydelik vervang is nie. Indien die speler nie ná 12 minute (werklike tyd) vandat hy die speelveld verlaat het, beskikbaar is om na die speelgebied terug te keer nie, word die plaasvervanging permanent.

Tydelike plaasvervangings – almal

3.28 'n Tydelike plaasvervangings kan tydelik vervang word (selfs al is al die plaasvervangers gebruik).

3.29 Indien die tydelike plaasvervanger beseer word, mag daardie speler ook vervang word.

3.30 Indien 'n tydelike plaasvervanger afgestuur word, word die speler wat oorspronklik afgestuur is, nie toegelaat om na die speelgebied terug te keer nie, behalwe om aan reël 3.19 of 3.20 te voldoen, en slegs indien die speler mediese klaring ontvang het om terug te keer en dit doen binne die vereiste tyd vandat hy die speelveld verlaat het.

3.31 Indien die tydelike plaasvervanger tydelik geskors word, mag die vervangde speler nie toegelaat om tot ná die skorsingstydperk na die speelveld terug te keer nie, behalwe om aan reël 3.19 of 3.20 te voldoen, en slegs indien die speler mediese klaring ontvang het om terug te keer en dit doen binne die vereiste tyd vandat hy die speelveld verlaat het.

3.32 Indien die toegelate tyd vir 'n tydelike plaasvervanging gedurende rustyd verstryk, word die plaasvervanging permanent tensy die vervangde speler onmiddellik aan die begin van die tweede helfte na die speelveld terugkeer.

Taktiese plaasvervangers wat by die wedstryd aansluit

3.33 Takties vervangde spelers mag na die spel terugkeer slegs indien hulle die volgende vervang:

a. 'n Beseerde voorryspeler.

b. 'n Speler met 'n bloedbesering.

c. 'n Speler met 'n kopbesering.

d. 'n Speler war pas as gevolg van vuilspel beseer is (soos deur die wedstrydbeamptes geverifieer).

e. Die genomineerde speler soos in reël 3.19 of 3.20 beskryf.

Herhalende plaasvervangers

3.34 'n Wedstrydorganiseerder mag herhalende plaasvervangers op omskrewe vlakke van die spel binne sy jurisdiksie toelaat. Die getal omruilings mag nie 12 oorskry nie. Die administrasie en reëls in verband met die herhalende plaasvervangers is die verantwoordelikheid van die wedstrydorganiseerder.