7 Voordeel
Beginsel
Indien 'n span 'n voordeel ná 'n oortreding deur hulle opponente behaal, mag die skeidsregter toelaat dat spel voortgaan in 'n poging om die spel te laat vloei.
7.1 Voordeel:
a. Mag takties wees. Dit staan die nie-oortredende span vry om die bal te speel soos hulle wil.
b. Mag gebiedsvoordeel wees. Spel het in die rigting van die opponente se se doodlyn beweeg.
c. Mag 'n kombinasie van taktiese en gebiedsvoordeel wees.
d. Moet duidelik en werklik wees. 'n Blote geleentheid om 'n voordeel te behaal is nie genoeg nie.
7.2 Voordeel is oor wanneer:
a. Die skeidsregter ag dat die nie-oortredende span 'n voordeel behaal het. Die skeidsregter laat spel toe om voort te gaan; of
b. Die skeidsregter ag dat dit onwaarskynlik is dat die nie-oortredende span 'n voordeel sal behaal. Die skeidsregter stop die spel en pas die straf toe vir die oortreding waarvandaan voordeel gespeel is; of
c. Die nie-oortredende span 'n oortreding begaan voordat hulle voordeel behaal het. Die skeidsregter stop die spel en pas die straf vir die eerste oortreding toe. Indien enige van of albei die oortredings vuilspel is, pas die skeidsregter die toepaslike straf(strawwe) vir die oortreding(s) toe; of
d. Die oortredende span 'n tweede of daaropvolgende oortreding begaan waarvan geen voordeel behaal kan word nie. Die skeidsregter stop die spel en laat die kaptein van die nie-oortredende span toe om die voordeligste straf te kies.
7.3 Voordeel moet nie toegepas word nie en die skeidsregter moet die fluitjie onmiddellik blaas wanneer:
a. Die bal of 'n speler in besit van die bal die skeidsregter raak en 'n voordeel deur enigeen van die spanne behaal word.
b. Die bal by 'n skrum aan enige kant van die tonnel uitkom.
c. 'n Skrum deur meer as 90 grade geswaai word.
d. 'n Speler in 'n skrum opgelig of opgeforseer word sodat die speler nie meer kontak met die grond het nie.
e. 'n Vinnige ingooi, vryskop of strafskop verkeerd geneem word.
f. Die bal doodgemaak word.
g. Dit gevaarlik sou wees om spel te laat voortgaan.
h. Daar vermoed word dat 'n speler ernstig beseer is.